Die winter vermenigvuldig die swaarkry en ellende van die armes. Wanneer ysige winde ’n swak, saamgeflanste dak afruk, word dit wat eens ’n beskutting was, blootstelling aan strawwe, genadelose elemente. Wanneer ’n brand ontstaan weens ’n kers wat omgeval het, en vlamme van hut tot hut spring, verloor mense alles, soms selfs hul lewens. Wanneer reënwater in informele nedersettings opdam en mense se huise oorstroom, word karige maar kosbare besittings beskadig, dikwels sodanig dat dit weggegooi moet word. Hierdie afgelope winter het ons onsself belowe dat ons beter voorbereid sou wees om noodsituasies te hanteer. En u het ons gehelp om Reddingspakkies gereed te hê – met items soos komberse, soveel warm en beskermende klere as wat ons kon insamel, handdoeke, beddegoed, en basiese niebederfbare kruideniersware vir noodvoedsel. Dankie dat u ondersteuning en hoop gegee het in situasies waar dit gelyk het asof alles verlore was. U goedheid is baie kosbaar. |